Weiveld Hoender

So boer ons braaikuikens

Die braaikuikens word vir die eerste twee tot drie weke van hulle lewens onderdak, in ons knus kuikenkamer vertroetel. Sodra hulle die geel donsies afgeskud het en sterk genoeg is, word hulle op die weiveld in verskuifbare hokke geplaas. Die hoenders word elke dag na ‘n nuwe, skoon porsie weiding geskuif. Hierdie holistiese boerderypraktyk speel ‘n sentrale rol in die bemesting en opbouing van ons weiveld. Van dagoud kuiken tot amper 9 weke-oue hoender word daar nooit enige groeihormone of antibiotika gegee nie. Ons maak gebruik van ‘n spesiaal geformuleerde GM-vrye voer wat die optimale gesondheid van die hoenders verseker.

Die resultaat is groot, gesonde en smaaklike hoenders. Dit wat ons aanvanklik net vir eie huishoudelike gebruik produseer het, het oor die jare gegroei tot iets groters. Ons verskaf sedert die jaar 2015 heilsame hoender aan tevrede klante.

Geen water word ingespuit nie. GroenGetrou produkte bevat geen MSG, suiker, bestraalde speserye of kunsmatige versoeters nie.

Weiveld Hoender is beskikbaar in interessante verwerkte vorme soos wors en gerookte filette, maar ook heel of opgesny in porsies.

"GroenGetrou is 'n lewenswyse:
So gesond as moontlik,
so natuurlik as moontlik,
so lekker as moontlik!"