Weiveld Eiers

Alles het ‘n doel en ‘n rede op die plaas en so moet ook die lê-henne hul brood en botter verdien.

Die henne se primêre rol is om die weiveld te bewerk en om eiers te produseer. Wanneer die henne skrop, versprei hulle nie net mis nie, maar bring dormante sade na die grondoppervlak, net soos voëls in die natuur doen. Ons maak gebruik van doelgemaakte verskuifbare hoenderhokke, elektriese nette en ‘n rotasie-weidingsplan. Die henne word elke paar dae geskuif, ontvang twee maal per dag voer en die eiers word daagliks uitgehaal.

Die henne kry spesiale aandag. Ons dagoud-kuikens se bekkies word nie geknip nie en hulle geniet die buitelug vanaf ‘n vroë ouderdom. Lekker groot A-raam stallasies dien as klimrame en slaapstokke. Op 16 weke-ouderdom, verwerf hulle die titel “punt-van-lê henne”. Hulle is dan oud genoeg om na die eiermobiele in die veld geskuif te word. Vir die res van hulle lewens op die plaas kan hulle vry rondloop en pure hoender wees!

Ons maak deurgans gebruik van hoë gehalte voer. Geen geneties gemanipuleerde grane word aangekoop nie en ook geen antibiotika of hormone word toegedien nie.

Weiveld Eiers word nie gewas nie, maar word net liggies met ‘n skuursponsie skoongemaak – ook slegs indien nodig. Gekraakte eiers word kompos en die res  word verpak sonder diskriminasie teen verskillende kleure of groottes. Die kleur van die eiergele verskil deur die loop van die jaar, soos die natuurlike weiveld seisoenaal van groen na bruin verander.

Image
Die prys van eiers:
18 eiers: R77
30  eiers: R112
Dubbelplaat met 60 eiers: R200
Midi boks eiers (15 dosyn): R590
Maksi boks eiers (30 dosyn):  R1150

Hoe verskil Weiveld Eiers van kommersiële eiers?

Volgens verskeie studies, bevat weiveld eiers ongeveer:

  • Twee maal soveel vitamine E
  • 35 – 40% meer vitamine A
  • Twee na drie maal soveel Omega-3 vetsure
  • Minder as helfte Omega-6 in verhouding tot Omega-3
  • Drie tot vier maal soveel vitamine D